Elvis se Seun
Meer as dertig jaar na Elvis Presley se dood, daag ʼn splinternuwe Afrikaanse musiekgroep op wat dieselfde tipe musiek maak as die koning van ruk en rol, maar in Afrikaans. Is dit dalk waarlik Elvis se seun wat nou sy opwagting in Suid-Afrika maak?
Daar’s net een manier om uit te vind; gaan luister maar self na Elvis se Seun. Dis ook die naam van die opwindende nuwe groep wat oorspronklike Afrikaanse musiek maak met ʼn unieke klank en styl, wat hulle Boere Rock doop. Elvis se Seun is ʼn jong, energieke 4 – stuk groep, bestaande uit ʼn sanger, kitaarspeler en twee dansers.
Daar sal altyd plek wees vir tong – in – die – kies lirieke, prettige melodieë en opwindende vertonings en dis presies wat Elvis se Seun bied. Hulle musiek is ideaal vir lekker luister, kuier, dans en elke snit is oorspronklik en in Afrikaans. Dis musiek met ʼn polsende ritme wat jonk en oud sal vermaak.
Moenie net meegevoer word deur die musiek van Elvis se Seun nie; beleef hul energieke vertonings wat voete sal laat jeuk en lywe sal laat skud. Elvis het miskien die gebou verlaat, maar die legende leef voort in Elvis se Seun.