Joe F
Joe F is die verkleurmannetjie van die musiekwêreld; ‘n kunstenaar wat nie toelaat dat hy in ‘n boksie met ‘n eendimensionele etiket verpak word nie. Die kragdadige sanger met die rasperstem het as liedjieskrywer én sanger die vermoë om sy eie grense met die grootste gemak te verskuif. Sy tweede album by Vonk Musiek, Hou My Vas, is ‘n bielie van ‘n versameling wat soos musiekdinamiet vir ‘n oor-tot-oor-ontploffing sorg.
“My musiek is baie soos ‘n tydlyn van my lewe. Ons elkeen groei,” vertel die sanger wat glo dat sy liedjies hom kies. “My aanhangers groei saam met my. Ons was eers in ons rock-stadium, ons rebelse stadium, ons kalm-word-stadium en nou is ek op ‘n stadium waar my vriende en familie vir my kosbaar is.”
Sou ‘n mens Joe F as ‘n rocker wou stereotipeer, wys hy met die album Hou My Vas dat sy talent wyer strek as die treffer Vliegmasjien (van sy vorige album en wat weer hier ingesluit is). Met die openingsnit Jy is my vrou sing hy ‘n stryker-begeleide ode aan sy lewensmaat: “Jy is my vrou, hier in my arms toegevou…”