Mathys Roets
Mathys Roets het sy musiekloopbaan in 1989 begin toe hy met sy kitaar in die hand, in ‘n winkelsentrum in Pretoria, vir fooitjies gesing het.
In 1996 maak hy ‘n belangrike deurbraak met sy debuutproduksie op die KKNK. In hierdie vertoning, Nokturne, sing hy die musiek van Koos du Plessis. Die musiek van Koos du Plessis het Mathys, met sy donker fluweelstem, soos ’n handskoen gepas.
Deur sy loopbaan het Mathys bekendheid verwerf vir sy sielvolle vertolkings van die wêreld se mooiste ballades, veral die musiek van Leonard Cohen, Roger Whittaker en Neil Diamond. Die pad wat hy gestap het, was nie maklik nie. Hy het harde bene gekou, self luidsprekers rondgedra en van restaurant na restaurant gegaan om daar te sing, maar toe hy uiteindelik raakgesien word, het dinge behoorlik vir hom vlam gevat.