Riana Nel
Met ‘n rits treffer-albums op haar kerfstok, het Riana Nel haar die afgelope jare gevestig as een van die groot name in Afrikaanse musiek.
Sy het bekendheid verwerk as gospelsangeres met albums soos Oopmond (2001), The Cure (2003) en Someone with Skin (2006). In 2011 is haar eerste sekulêre album, Die Moeite Werd, by Coleske Artists vrygestel en Die Regte Tyd het in 2014 gevolg. Met treffers soos “Die Moeite Werd”, “Dans”, “Soos die Son”, “Tyd om te Lewe”, “Tweede Kans” en “Weier”, het sy haar nie net in Suid-Afrikaners se harte ingesing nie, maar haarself ook gevestig as een van die talentvolste Afrikaanse liedjieskrywers vandag.
Riana is op 9 November 1981 in Windhoek, Namibië gebore. Sy het van kindertyd ondersteuning van pa Flip, ‘n polisieman, en ma Helet, ‘n graad 1-onderwyseres, gehad. Hulle het haar die vryheid gegee om te droom en haar passie te volg. Gospelmusiek en haar geloof is steeds van die belangrike pilare in haar lewe, maar met haar sekulêre pop/rock-musiek het sy ‘n nóg groter gehoor bereik.
Met Die Moeite Werd het sy kragte saamgespan met Arnold en Ewald Coleske en dit was vinnig duidelik dat haar loopbaan ‘n nuwe dimensie aangeneem het. Kort voor lank is sy deur Huisgenoot beskryf as ‘n nuwe talent om dop te hou.